Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SARL-NUUS SONDAG 27 NOVEMBER 2011

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

VOORGESTELDE WYSIGINGS AAN ELEKTRONIESE KOMMUNIKASIEWET ONTTREK

NOMINASIES VIR SARL-TOEKENNINGS INGEWAG

RADIOAMATEURS GEVRA OM MET ’n IRS-PLASMA-EKSPERIMENT TE HELP

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

VOORGESTELDE WYSIGINGS AAN ELEKTRONIESE KOMMUNIKASIEWET ONTTREK

Die Departement van Kommunikasie het die voorgestelde wysigings aan die Elektroniese Kommunikasiewet onttrek vir verdere oorlegpleging met die regering. Die voorgestelde wysigings aan die wet sou die magte van OKOSA aan sekere fronte aan bande lê, insluitende frekwensietoekennings en bestuur en sou oor hierdie items meer magte aan die Minister verleen. Daar was wye teenkanting teen die beoogde wysigings. Die voorgestelde wysigings was hoog op die SARL se lys van terugvoerings. Dit is onseker wanneer die Departement gewysigde veranderings aan die Wet gaan publiseer. Tot op hede het die SARL slegs van twee radioamateurs kommentaar ontvang. Soos sake tans staan, is geen verdere optrede nodig nie.

NOMINASIES VIR SARL-TOEKENNINGS

Lede en klubs word genooi om nominasies aan die Raad van die SARL in te dien vir die volgende SARL-toekennings:

Lewenslange erelidmaatskap – dit is die SARL se hoogste toekenning.

Willie Wilson goue wapen.
Vir die amateur wat uitsonderlike en verdienstelike diens aan die Liga verleen het.

Jack Twine-toekenning
Ter erkenning van kwaliteite soos onselfsugtigheid, goeie radiobedryfsprosedures en ‘n egte belangstelling in amateurradio. Hierdie besondere toekenning word gegee aan amateurs, volgens die mening van hul mede-amateurs en die Raad, wat oor die kwaliteite besit wat in amateurradio nagestreef behoort te word.

Arthur Hemsley-2 metertoekenning
Aan ‘n radioamateur vir sy/haar individuele uitsendings op die 2 meter-frekwensie. Dié toekenning geld vir buitengewone prestasie op AMA- of andermodusse, soos troposferiese voortplanting. Die geld nie vir die langste afstand bereik nie, maar vir volgehoue deursettingsvermoë om iets besonders op 2 meter te bereik.

Barney Joel Trofee
Vir enige lid van die SARL vir die beste prestasie op HF deur ‘n mobiele stasie. Dié toekenning kan aan ‘n individu toegeken tydens ‘n tydren of ander openbare kommunikasiegeleentheid, ensovoorts.

Icom-toekenning vir uitnemendheid
Vir ‘n amateur wat deur sy/haar aktiwiteite internasionale erkenning vir amateurradio in Suid-Afrika besorg het deur langafstand BHF-/UHF-langafstandwerking, of deur diens aan die Republiek van Suid-Afrika op die veld van wetenskaplike navorsing in Amateurradiospektrum, of deur die bevordering van amateurradio internasionaal, of van tyd tot tyd deur die Raad bepaal.

Joseph White-skild
Vir enige lid van die SARL vir buitengewone prestasies In die 432 MHz-band deur die afgelope jaar. Dit word nie toegeken vir die langste afstand behaal nie, maar vir beste algehele prestasie.

Bert Buckley 6-metertrofee
Vir ‘n amateur vir sy/haar individuele prestasies in die 6-meterband. Hierdie trofee geld nie vir die langste afstand bereik nie, maar vir uitmuntende prestasies op die 6-meterband.

VERTRAGINGS BY LoTW VERMINDER

Logboek van die Wêreld (LoTW) gaan voort om logstate te ontvang en te verwerk. Tans is die vertraging 30 uur, vergeleke met 45 uur verlede week. Op 23 November was daar ongeveer 857 000 QSO’s in 3 335 logstate in die waglys vir verwerking.

Indien u reeds ’n logstaat ingestuur het, moet dit asb. nie weer doen nie. Indien dit gedoen word, word die waglys net langer. Moet ook nie logstate instuur wat in vorige ingestuurde logstate ingesluit is nie; gebruik die datumbereik-opsie wanneer logstate ingestuur word en sluit slegs die QSO’s in wat in hierdie bereik val. Deur hierdie riglyne te volg sal dit help dat die agterstand by die LoTW vinniger uitgewis word. Die SARL bedank die LoTW-gebruikers vir hulle geduld.

RADIOAMATEURS GEVRA OM MET ’n IRS-PLASMA-EKSPERIMENT TE HELP

Die Sentrale Navorsingsinstituut van Masjienbou in Rusland het ’n toets voorgestel met die samewerking van die wêreldwye amateurradiogemeenskap om ’n BHF-pakket op 145,825 MHz te ontvang van ’n nuwe plasma-eksperiment in die Internasionale Ruimtestasie.

Die Sentrale Navorsingsinstituut doen ’n reeks plasma-eksperimente om die omvang van vroeër waargeneemde ‘dooie’ ruimte, of skadugebied te evalueer wat veroorsaak word deur die afvuur van ’n aanboord boogvonk plasmabron. Radioamateurs word uitgenooi om aan hierdie eksperiment, genaamd ‘Shadow’, deel te neem.

Verdere inligting hieroor en hoe om deel te neem, kan verkry word by tinyurl.com/plasma-in-space.

SARL ELEKTRONIESE QSL

Peter Hers rapporteer dat toe hy die SA se QSL-stelsel op ’n eksperimentele basis in diens gestel het, dit die algehele stabiliteit van die webwerf nadelig geaffekteer het. Hy het dit dus uit diens geneem en hy gaan voort met verdere ondersoek en toetse.

GRATIS AANLYN SATV-BOEK

Hierdie item is uit WIANEWS oorgeneem.

Martin, OK2MNM, het sy nuwe boek “Image Communication on Short Waves” gratis op die web beskikbaar gestel.

Die boek kan aanlyn gelees word of in PDF-formaat afgelaai word van HTTP://www.sstv-handbook.com/. Daar kan ook by die MMSSTV Yahoogroep aangesluit word by HTTP://groups.yahoo.com/group/MM-SSTV/.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die sonaktiwiteit besig is om af te neem met slegs 'n paar C-klas fakkels wat gedurende die week geproduseer is. Sonvlek 1 356 het egter 'n "beta-gamma" magnetiese veld wat genoeg energie stoor vir M-klas fakkels. Verder is die son se oppervlakte oortrek met kleiner sonvlekke wat gunstige HF toestande verseker.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings doen, is die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week ongeveer 88, laer as verlede week se telling van 103.

20 tot 10 m gaan pret wees met verskeie openinge gedurende die verloop van die dag. Die hoër bande sal tipies eerste oopmaak om dan later deur die laer bande gevolg te word. 6 m is ook aktief met goeie TEP-openinge van tyd-tot-tyd.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

27 November - GG-been van 80 m klubkompetisie.
27 November - Digitale kompetisie.
30 November - Laaste dag vir insending van logstate vir PEARS HF DX-ekspedisie.
03 Desember - Die Wesrand Amateurradioklub se snuffelmark om 12:00.
31 Januarie 2012 - Laaste dag vir insending van nominasies vir SARL-Raadslede en mosies vir die SARL se AJV in 2012.
31 Januarie 2012 - Sluitingsdatum vir insending van voorgestelde verhandelings vir SA AMSAT se Ruimtesimposium.

SARLNUUS nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio TODAY', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 16:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur George, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Ten einde u inskrywing op hierdie subskripsielys te verander of dit daarvan te verwyder, gaan na www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003